Landbouweekblad | 5 Mei 2017
CaseIH lê klem op wat sy klante nodig het, en pas die beginsel van kliëntgedrewe produkontwerp toe. Die maatskappy volg dié beleid rakende die vervaardiging van landboumasjinerie reeds van 1842 af. In 1869 het hy die eerste stoomaangegedrewe trekker bekend gestel. Deur die jare is elke uitvindsel van CaseIH aangedryf deur individuele boere se unieke denkwyses en die doel was altyd om die landbou van môre beter te maak as wat dit vandag is.
Vandag bewerk CaseIH se toerusting meer hektare ekonomieser en akkurater en sy stropers haal oeste doeltreffender van die land.
“Met 175 jaar van CaseIH-produksie agter ons, kan ons dalk tans dink ons is óf ver gevorder óf ons is dalk in die groentjiestadium wat toerusting vir die toekoms betref. Ons weet nie wat oor 20 of 30 jaar gaan gebeur nie, maar ons weet wel dinge verander en verbeter elke dag,” sê mnr. Arno du Plessis, nasionale verkoopsbestuurder van CaseIH en Northmec.
Vanjaar se Nampo-Oesdag sal ’n groot geleentheid wees vir Northmec en CaseIH om van die beste toerusting uit te stal.
STROPERS
Die nuwe Axial Flow-stroper met rusperbande bied ’n groter vermoë, verbeterde doeltreffendheid en ’n beter vastrapvermoë – veral in die mooi, nat jaar wat die binneland beleef. Met die AFS-stelsel as standaardtoerusting het die klant elke sekonde eerstehandse inligting beskikbaar oor alles wat in die landery gebeur.
WAARBORG
CaseIH is die eerste stroper op die mark met ’n waarborg van drie jaar. In die eerste jaar kry die hele werktuig dekking. In die tweede en derde jaar is al die bewegende onderdele wat in olie aangedryf word, soos die enjin, ratkas, ewenaars en hidrouliese pompe, gewaarborg.
SPUITE
Die selfaangedrewe reeks SPX Patriot-spuite loop voor in dié segment van die Suid-Afrikaanse mark. Dié spesialiswerktuig is ’n moet vir elke plaas. Danksy die eenvoudige gemak waarmee die spuit beheer word, is dit die markleier wat doeltreffendheid en presisietoepassing betref. Gesogte werktuie vir saadbedvoorbereiding, soos die magtige Tigermate 200 (18,5 m wyd), het ’n welverdiende plek in die CaseIH-stal. Dié werktuie verhoog produktiwiteit in die planttyd en verseker dat geen planterkonfigurasie die bewerking in spitstyd belemmer nie.
Die kombinasie-beitelploeg Ecolo Tiger sal ook te sien wees. Dit sny reste en dolwe die grond tot 550 mm diep met sy vulkaniese tandpunt, en laat ’n egalige saadbed agter.
Hooimaak is altyd makliker met doeltreffende masjinerie. CaseIH se snyerkneusers, van 4,0 m tot en met 4,8 m wyd, word op Nampo uitgestal. Saam met die LB434-grootblokbaler vorm dié twee werktuie ’n unieke kombinasie om gras en lusern teen die regte tyd te sny en te baal met die regte voginhoud en digtheid vir gehalteveevoer.
PRESISIEBOERDERY
Die afdeling vir presisieboerdery spog met nuwe tegnologie wat inpas by CaseIH en Northmec se Advanced Farming Solutions. Dit sluit in die kartering van plase en landerye, afwisselende toediening van een of meer produkte en die afwisseling van plantestand.