Case IH en Agri Technovation perfekte pasmaats in presisielandbou
Case IH en Agri Technovation werk saam om ’n allesomvattende diens aan produsente te lewer.
Hierdie samewerking bemagtig produsente om meer optimaal te boer omdat Case IH se AFS-stelsel boere in staat stel om baie meer presies te plant, te spuit en te stroop en Agri Technovation help met data-ontledings van voor plant tot na stroop.
Winsmarges raak al hoe kleiner en laat bykans geen ruimte vir foute of verkeerde besluite nie. Om hierdie marges te optimaliseer is noukeurige bestuur op alle vlakke van die boerdery van kardinale belang. Die samewerking tussen Case IH en Agri Technovation stel beide maatskappye se kundigheid en tegnologie tot die beskikking van plaaslike produsente sodat boerderybestuursbesluite op werklike kennis geskoei kan word.
Case IH en Agri Technovation bied ‘n reeks tegnologiedae aan wat regoor die land plaasvind, waar praatjies oor die belangrikheid van presisietegnologie en akkurate data-analise aangebied word om ondersteuning te bied aan produsente om meer volhoubaar en presies te boer. Om die regte besluit te neem sodat die korrekte en mees toepaslike aksie op die regte tyd en regte plek uitgevoer kan word, verg meer as net data of toerusting. Inligting wat deurlopend ingesamel word, kan met die hulp van die twee maatskappye se kundige personeel sinvol verwerk en uiteindelik prakties toegepas word sodat die potensiaal van die grond, die saad of gewas, asook die presisietoerusting wat gebruik word, tot hulle volle reg kan kom.
“Die kernstrategie vir Case IH in die plaaslike landbou is volhoubaarheid. Hierdie samewerking is ‘n groot stap in daardie rigting,” het Stephen Nel, Besturende Direkteur van Case IH tydens ‘n mediageleentheid gesê.
Hy het verder gesê dat die integrasie van data een van die belangrikste aspekte van boerdery is. “Om te meet is belangrik, maar om te weet wat om te doen met jou data, is nog belangriker.”
Om die moontlikhede van die reeds doeltreffende Case IH AFS-stelsel nog verder te vergroot, gebruik die maatskappy nou Agri Technovation se agronomiese ondersteuningsdienste om boere te help om ingeligte besluite te neem. “Hierdie gekombineerde tegnologie en praktiese kennis, sal produsente in staat stel om data wat oor jare ingesamel is, te ontleed en toe te pas met die oog op omgewingsvriendelike en volhoubare boerderymetodes. Daar is reeds goeie tegnologie op die plaas, en die inligting is beskikbaar, maar Agri Technovation vat alles saam in een pakkie. CaseIH en Agri Technovation se samewerking beteken dat daar wedersyds hande gevat word tot voordeel van die boer,” sê Arno du Plessis, Hoof van Taktiese Bemarking Case IH. “Dit gee die boer die Vryheid om van enige plek af te boer.”
Die uiteindelike doel is om produsente te help met die toepassing van presisie-tegnologie op hulle plase, en met die ontleding en integrasie van die data met die oog op optimale boerderypraktyke.
Volgens Du Plessis, bied hierdie die geleentheid om alle fasette van die boerdery te optimiseer, insluitend:
- Volhoubare benutting van hulpbronne.
- Volhoubare toepassing van insette.
- Doeltreffendheid
- Winsgewendheid
Schalk Oosthuizen, Produkspesialis by Case IH, meen data is die sleutelgedagte in die hele proses. “Data en statistiek beteken niks as die inligting wat ingesamel word nie goed en korrek is nie. Net soos data jou kan help om goeie en slim besluite te neem, net so kan verkeerde inligting lei tot swak besluite en mislukkings.”
Hy het verder daarop gewys dat hoewel inligting reg moet wees, die verwerking en die toepassing daarvan van net so groot belang is. “Die verwerking van historiese data kan bepaal waar probleme gesetel is sodat dit reggestel kan word. Rekordhouding is daarom net so belangrik – vir vandag en vir die toekoms. Presisieboerdery is meer as net presisie-implemente. Dit is die herhaalde en konstante versameling, analise en toepassing van inligting.”
Volgens Oosthuizen bring Case IH se AFS Connect™-stelsel die volgende na die tafel toe in hierdie gekombineerde pakket:
- Vlootbestuur en -monitering – produsente kan sien waar die trekkers is en hoe vinnig hulle gery het.
- Afstandondersteuning aan die produsent en sy vloot.
- Afstandoordrag van inligting.
- Data word gevisualiseer.
- 5 jaar van oop data.
- Die deel van inligting – die produsent kan besluit wat met wie gedeel word.
- Sagteware kan maklik opgedateer word.
- Ander platforms kan geïnkorporeer word.
Volgens Heinz Oellermann, Hoof van die Graanafdeling van Agri Technovation, lê die sukses van winsgewende boerdery in die sinergie tussen landbou, wetenskap en tegnologie. “Ons kan nie net na een komponent kyk nie. Sou mens na die kultivar wat geplant word kyk, moet mens ook kyk waar die kultivar inpas. Daarom is dit belangrik om jou grond behoorlik te ontleed sodat jy weet watter tipe grond jy het, hoe diep die grond is, en hoe die totale samestelling van ’n land lyk. So kan mens bepaal watter kultivar waar geplant moet word. Dit is nou meer as variëerbare kunsmistoediening en stand, maar variëerbare kultivartoepassing. As mens so boer, kan jy die pitgewig, die pitgetal en die koppe per hektaar bestuurs om so by die optimale opbrengs uit te kom.”
“Ons betrokkenheid is om die aspekte waaroor ’n boer beheer het, te help bestuurs en aanpassings te maak waar en hoe nodig. Die dae is verby dat ’n boer net tevrede kan wees met die toestand van sy grond. Boere moet kyk na die inherente potensiaal van grond en dit so bestuur dat hulle die potensiaal kan benut, ” het Oellermann gesê.
Hy het ook beklemtoon dat aanbevelings nie immergroen is nie en jaarliks aangepas moet word na gelang van die nuwe data wat ingesamel word.
Nico Myburgh hoof van presisietegnologie het beklemtoon dat die kliënt, in hulle geval die boer, altyd eerste gestel word. ”Ons is obsessief oor kliënte – hulle behoeftes bepaal ons aktiwiteite.”
Hy het gesê dat presisieboerdery vandag volgens die volgende beginsels geskied:
- Grond tot grond – soort grond en diepteplasings.
- Pit vir pit – die spoed en druk van die planter word aangepas om elke pit korrek te plaas.
- Druppel vir druppel – elke druppel moet so in die land geplaas word dat vog en bespuitings eweredig geskied sonder dat plante onnodig beskadig word.
- Spuit vir spuit – met meer doeltreffende implemente kan die boer verseker dat hy spuit op die optimale tyd.
- Graan vir graan – omdat die skepelgewig van die graan reeds met stroop bepaal kan word, kan dit ook help om graan meer optimaal aan die koper te lewer.
Foto-onderskrif
Die verteenwoordigers van Case IH van links: Schalk Oosthuizen, ProdukBestuurder; Stephan Nel, Besturende Direkteur Case IH; Nico Myburgh, Hoof van Presisietegnologie; Arno du Plessis, Hoof van Taktiese Bemarking; en Heinz Oellermann, Hoof van die Graanafdeling van Agri Technovation.
Vir meer inligting kontak Chimene de Villiers, Hoof van Bemarking en Kommunikasie, Case IH by chimene.devilliers@cnhind.com