Soilxplorer - Jongste toevoeging tot Northmec se tegnologie-aanbod
Northmec, verspreider van die Case IH-handelsmerk, vier sy 150ste bestaansjaar met vindingryke bekendstellings op vanjaar se Nampo-oesdag.
Die innoverende Case IH Agxtend-presisieboerderytegnologie vul die handelsmerk se AFS-produkte (Advanced Farming Solutions) aan. Die Soilxplorer is die jongste tegnologie uit die Northmec-stal.
Dié sensor, of karteerder, het ’n kontakvrye sensor wat elektromagnetisme gebruik om grondtipe en -diepte op vier verskillende vlakke te meet, naamlik 0-25 cm, 15-60 cm, 55-95 cm en 85-115 cm.
Die eenheid word aan ’n trekker se neus gemonteer en het twee hooffunksies. Eerstens kan dit grondkartering doen, naamlik om die grond se heterogeniteit te meet en dan grondtipes te karteer. Dit kan ook die relatiewe waterinhoud in die grond waarneem en op die kaart bêre.
Tweedens verskaf dit inligting van verskillende dieptes van grondverdigting sodat wisselende bewerking van die grond volgens die gronddiepte kan plaasvind. Om altyd op die maksimum diepte in die grond te werk, veroorsaak onnodige brandstofverbruik en slytasie aan die werktuie.
Die Soilxplorer maak nie regstreeks kontak met die grond nie en werk gevolglik onafhanklik van weerstoestande en plantegroei.
Só kan boere gedetaileerde grondmonsters met verskillende parameters ontwikkel.
Die Soilxplorer se SXTS-sagteware is by die pakket ingesluit.
KAARTE
Agxtend se Soilxplorer is lig en maklik om te vervoer en te hanteer.
Danksy die eenvoudige manier waarop dit aan die voorpunt van die trekker monteer, kan dit saam met enige hidrouliese landboumasjinerie gebruik word.
Alle kaarte is versamelde interpretasies van die data wat gemeet is deur die rolle van ál vier lae van die opname.
Die verskillende tipes kaarte wat saamgestel word, sluit in:
■ Relatiewe waterinhoud (rWTC, relative water content).
■ Diepte van die grond (D2I).
■ Grondsone.
■ Bewerking/toepassing.
Die voordele van die stelsel is:
■ Verhoogde produktiwiteit met grondbewerkingstoepassings.
■ Besparing aan brandstof en verminderde slytasie.
■ Verminderde onderhoudskoste.
■ Deurlopende verbetering van die grondstruktuur.
■ Dit is Isobus-gereed.
NUWE PLANTERS
Die nuwe reeks Case IH 2000- planters is propvol opsies vir presisieboerdery. CaseIH het ’n ooreenkoms aangegaan met The Climate Corporation, wat hoëdefinisiekartering verskaf deur middel van FieldView®-tegnologie wat op alle Early Riser®-planters aangebring is.
Daarvolgens het CaseIH sy opsies vir die nuwe produksie-jaar uitgebrei met gevorderde nuwe tegnologie by alle Early Riser®-planters. Nuwe kaarte of lae is in hoë definisie by alle planters in die 2000-reeks beskikbaar deur middel van die kajuittoepassing The Climate Corporation FieldView®.
Dié opsie skakel die onnodige koste uit om ’n stelsel net vir visualisering, kartering en selfstuurlynverdeling aan te skaf. Dit is beskikbaar vir gebruikers wat ’n planter in die 2000-reeks gebruik saam met ’n
Case IH-trekker wat toegerus is met die AFS-stelsel (Pro700- skerm, NavII/III-beheerder en die AFS 372-antenna). “Early Riser®-planters bied reeds ’n robuuste ry-eenheid en voorste akkuraatheid. Nou voeg ons bykomende karteringstegnologie by om in verbruikers se hoëtegnologiebehoeftes te voorsien,” sê mnr. Tony McClelland, bestuurder vir planterbemarking by Case IH.
“Produsente is altyd op soek na makliker hulpmiddels om data te visualiseer en ingeligte agronomiese besluite te kan neem. Ons kan nou saadplasing en die toedien van vloeibare kunsmis regstreeks vanaf die planter visualiseer deur middel van die FieldView®-toepassing.”
Met die regte toerusting en die FieldView®-inskrywing moet die gebruiker net die FieldView® Drive-hardeware aan die Pro700 koppel en begin plant. Kaarte wat intyds beskikbaar is, sluit in hibriedvariasie, populasie- en plantspoeddata, simulering, spasiëring, Delta-Force- hidrouliese gronddruk en korrelkunsmistoediening.
Die data word outomaties in die FieldView® Cloud-rekening gebêre vir maklike opberging en dataverwerking.
“Dit is ’n puik oplossing vir verbruikers wat produktiwiteit wil verhoog deur ry-vir-ry-planterkonfigurasies te optimaliseer en reg deur die seisoen beter ingeligte besluite te neem,” sê McClelland.