Die Turbo-Till True Tandem werk vir boere
Landbouweekblad, 2 November 2018
Case IH se vertikale grondbewerkingswerktuie lewer vinnige en doeltreffende oplossings vir die bestuur van oesreste en die gelykmaak van grond sodat die gunstigste toestande bereik kan word.
Case IH se Turbo-Till True Tandem sny deur mieliereste, lig die wortels van onkruid, en sny soja-boonreste en koringstoppels. Boonop word alles vanuit die trekker se kajuit beheer.
Die gepatenteerde TigerPaw-hidrouliese drukstelsel sorg vir die ideale sny-aksie en gelykmaak van die grond. Danksy die dubbelroller-kluitbreker kan die saadbedding perfek afgewerk word. Presiese enkelpunt-dieptebeheer op die skottels lei tot beter beheer van die stoppelbewerking.
Teen snelhede van 7 km/h tot 15 km/h word die invalshoek van die masjien se skottels ten volle benut. Dit sny die stoppels, lig die wortels en bolwortels van onkruide uit en meng die reste deeglik sodat voedingstowwe in die grond beter opgeneem kan word. Dit lei tot ’n egalige oppervlak wat reg is vir die plantproses waar gunstige saad-tot-grond-kontak verseker word.
Grondkorse
Die Turbo-Till sny deur die harde kors wat op die bolaag vorm. Dit verseker dat die ideale balans van water, minerale en lug in die grond geabsorbeer word.
Kenmerkend van die werktuie is die “konkaaf-golf”-skottels wat reste en grond optel en meng. Dit verbeter die saadbedding sonder dat verdere bewerkings nodig is. Dit voorkom onnodige verdigting van die grond.
’n Egalige saadbedding is die sleutel tot die verhoging van opbrengste en daarom bestee vervaardigers baie tyd en geld om werktuie te ontwerp waarmee boere die perfekte saadbedding kan voorberei.
’n Goeie saadbedding het egter meer as net ’n gladde oppervlak. Die grondprofiel waarin die saad neergesit en ontkiem word, is net so belangrik. Dit bepaal die planter se vermoë om die saad op die regte diepte en plek te plaas en te spasieer, en so word die opbrengs beïnvloed.
Voordele
Case IH se reeks masjiene lewer ’n eweredige, gelyke saadbed. Die voorste en agterste skottels is met presisie gespasieer om ongelykheid in en op die grond uit te skakel. Die grond se seepgladde struktuur verhoog die produktiwiteit van die planter deur die saad op die regte diepte en spasiëring neer te sit. Eenvormige ontkieming, vinnige opkoms en verhoogde opbrengste is gewaarborg.
Ontwerp
Diensvrye rollaers op die rollers en die wiele lei tot verminderde staantyd en verseker meer ure in die veld. Wat balkmontering betref, het die 18˚-hoek waarteen die skottels werk, tesame met die gekartelde konkaafskottels, ’n goeie mengaksie van die grond en reste en die eweredige sny van materiaal tot gevolg. Die U-vorm-skrapers verminder die kans dat dit weens klippe en rowwe materiaal kan buig.
Stokboute, wat meer wringkrag deurlopend kan verduur, en duursame onderdele verskaf die nodige gewig op die werktuig om reste te kan sny en grondkorse op te breek. Standaard-C-vere word gebruik om die skokke te absorbeer wanneer die skottels ’n versperring teëkom.
Die dieptebeheer op die werktuig se raam is op een sentrale plek met een verstelling. Die dieptebeheerwiele is die kenmerkende swenk-en-draaistelsel en is regstreeks op die raam vasgebout om onnodige ongebalanseerdheid te voorkom. Die voor-en agterdiepte van die masjiene word hidroulies vanuit die kajuit verstel.