Cairo Boeredag 2018. Case IH verf die land rooi.
Cairo Boeredag 2018 het amper soos ʼn mini Nampo gevoel, maar al verskil was, dat alles in rooi getooi was.
Johan Van Zyl, 16 Augustus 2018.
CASE-IH, wat in die Northmec-stal ressorteer, het op 15 Augustus weer gesorg vir ʼn hoogtepunt op die landboukalender toe hulle ʼn reuse suksesvolle boeredag by die Cairo-groep se gronde buite Koppies in die Vrystaat aangebied het.
Sowat 500 boere het die dag bygewoon waar CASE-IH en Jacto se jongste produkte bekendgestel en gedemonstreer is. Tipies van Augustusmaand, het die baie sterk winde die demonstrasies op die lande baie moeilik gemaak, maar dit het die boere se nuuskierigheid geensins geblus nie. Hulle het die sand in die oë getrotseer en met groot belangstelling aanhou toekyk hoe hierdie monster-masjinerie die aarde se rooigrond bewerk.
Na afloop van die demonstrasies, het die boere ʼn deftig-opgemaakte stoor stampvol gesit om na sprekers oor hul produkte te luister. Johan van der Merwe, Besturende Direkteur van Northmec in Suid-Afrika, het boere bedank vir die groot opkoms en belangstelling in dié dag. “Ten spyte van die huidige politieke klimaat in ons land, bly ons boere voortgaan en bo uitkom. Dit is eie aan ons dat ons nie sal gaan lê nie en dat ons met nuwe planne vorendag kom om beter uitkomste te realiseer. Ek is self ʼn boer en het pas nog grond aangekoop. Dit gaan vir my oor gesindheid. Dankie dat julle saam met my positief is. Ons is landbouers in murg en been en sal voorgaan waarmee ons goed is. Dankie vir julle as kliënte wat veroorsaak het dat CASE-IH se markaandeel aansienlik vergroot het en sy merk kon maak wat dit in die mark verdien. Ons sal seker maak dat ons voortgaan om aan u ʼn kwaliteit produk te lewer, wat deur bogemiddelde naverkoopdiens ondersteun word.”
Plaaslike en internasionale boere wat met CASE-IH en Jacto se jongste masjinerie werk, is na die podium genooi om eerstehandse ervaring van dié produkte met die gehoor te deel. Vanuit dié gesprekke was dit duidelik dat die produkte baie sterk aanbeveel word.
Na afloop van die formele verrigtinge is boere getrakteer met ʼn orkes wat lekker musiek gemaak het, braaivleis en ʼn biertent. Vir dié wat nie daar was nie, julle het uitgemis!
Vir enige navrae op enige Case-IH of Jacto produk, kan u gerus Suidwes Landbou se meganisasie-afdeling, Agrifriend Equipment se hoofkantoor by 018 581 1170 skakel of vir Lieb Janse van Rensburg, Nasionale Verkoopsbestuurder, by 082 824 0520.



